Bitter teleurgesteld in myself, diep bedroef
baie jaloers op elke mooi mens wat vroeg
tot sterwe gekom het voordat die kwinte en
kwale van die ouderdom hulle selfbeeld en
lewensvreugde kon bederf
Ek kan skaars die erkenning maak, maar die
hoop op bevryding van selfkastyding dwing my
tot belydenis – ek snork as ek slaap - kan my
niks meer onromanties voorstel nie, skielik het
ek ‘n nuwe selfkonsep
In my gedagtes sien ek die heks van Hansie en
Grietjie as ek aan myself dink; met die gesig wat
uit die spieël na my terugkaats, kan ek nie iden-
tifiseer nie, ek ken myself nie meer nie, ek wil so
graag die Tydelike met die Ewige verwissel
Voordat my aardse tentwoning vervalle is en die
malers stomp geword het – behoede my van bruin
seerowerstande – en die voet oud en krom nie meer
wil loop nie, die vingers dom, die kop dof en deur-
mekaar, ek wil ook vroeg heengaan
Sonder om jare om te sukkel, moeg, oud en kruppel…
No comments:
Post a Comment