Toe die lewe Anastasia oorweldig
op negejaar omdat sy
stiksienig voortsukkel terwyl
die wêreld verdof binne die
onsinnige vermenigvuldigingstafels
van Heideggeriaanse
Daarsyn in Niksseggende
Bewussynsverdomliking
Geen rede waarom sewe
maal agt gelyk moet wees aan
vyf en sestig nie, wanneer
die juffrou dit met bitsige venyn
uitgil - Sewe Maal Agt!
ruk Ana se binnegoed saam en
slaan sy amper flou
neer: Ana wonder waarom sy weet
Sewe maal sewe is gelyk
aan nege-en-veertig; skielik
geniet sy Das Aha-Erlebnis:
want hierdie som sing, agt
maal agt is
vier-en-sestig - maar wanneer die klas se
Sersant-Majoor-Generaal
bulder: NEGE MAAL SEWE
Slaan Ana as klein Legioen-soldaatjie
flou neer, skrik,
bewe en ruk; PTSD in die
Sersant-Majoor-Generaal se
interneringsklas, bewende
handskrif soos ‘n ou vrou ‘n
honderd jaar oud: eendag
stuur die slinkse Spaanse-
Inkwisisie-juffrou Ana na
die prinsipaal om haar te
kielhaal oor haar vermenigvuldiging-versuim;
verslae
staan Ana daar - die vriendelike
hoof stuur ‘n brief aan
haar ouers - daardie
aand sterf die klein Anastasia
‘n Smartdood alleen buite
op die stoep, gefusilleer deur
haarself binne haar interne
hel van selfvertwyfeling - die
besige grootmense wat self sweef tussen hemel en hel,
weet nie eens van Ana se
dood as banneling alleen buite
Op die stoep – Sjoe, lewer
Juffrou Pince-Nez kommentaar,
jy is darem verskriklik
oordadig melodramaties – en toe Ana
weer kyk, neem sy waar dis
die Sersant-Majoor-Generaal
haarself wat haar aanstaar
– en net daar sterf Ana nog ‘n
Tienduisendmaal 'n tal!
No comments:
Post a Comment