Thursday, August 14, 2014

Boodskap Aan Carine



Liefste Carine, my versugting vir jou is -
om jou stywer vas te hou...

Neem die veiligheid wat ons liefde aan jou bied,
dra dit soos ‘n seëlring om jou vinger, versteek
jouself in in die dieptes van die drome wat ons
aan jou stuur, bind die liefde om jou lyf soos ‘n
nuwe vorm van vastigheid, vergeet die verlede
en gryp die hede binne die ontvouing van ‘n
nuwe, glimmende skoonheid wat joune is

‘n Nuwe son skitter in die hemelruim en diep
binne die aarde in die ondergrondse water ont-
kiem die saad in lewenskragtigheid, so blom ook
viooltjies van verlange in my hart en ontkiem ‘n
vurige beskermingsdrang wat jou veilig insluit in
die liefde se warm ligkring, in glansended vreugde
wat jou veilig hou - en so word ook die vangnet teen

Angs en vrees sterker geweef, net so groei ons hoop
en geloof waarbinne mooier, soeter en sterker drome 
vir jou ontwaak – drome vir jou veiligheid, opwinding
en geluk  - my versugting vir jou is - om jou stywer 
vas te hou...

Marilese Koch


[Ander weergawe:]


Neem die veiligheid wat ons liefde aan jou bied en dra dit soos ‘n seëlring 
om jou vinger, altyd binne sig en naby jou hart.  Vind  jouself in die dieptes 
van die drome wat ons  vir jou stuur op die vleuels van liefde, toegeneentheid 
en vriendskap; bind hierdie liefde om jou lyf soos ‘n snoesige kombers en 
geniet die vreugde wanneer die warmtejou omvou.  Vergeet die verlede 
en gryp elke oomblik aan.

‘n Nuwe son skitter in die hemelruim - en diep binne die aarde in die onder-
grondse water ontkiem die bloeisels van die ewigheid in lewenskragtigheid. 
 Net so blom die vertroue in JOU fleurigheid binne ons hart - terwyl ons 
toekomsvisie vir jou oorwinning in geurige wierook opwadem en die 
boodskap van ons beskerming, liefde en toewyding wat jou veilig 
hou, aan jou bring.

Ons weef ‘n veiligheidsnet teen die angs en vrees wat sterker is as al die ander denk-
konstrukte of die verlede wat in die vergetelheid verdwyn, kragteloos teen die opstuwing
van nuwe lewe in ons samesyn, ons teenwoordigheid by jou soos ‘n goue lig terwyl die
sagte skoonheid van jou mooiste oomblikke uitkring na die hemelse baldakyn.

So groei ons hoop en geloof in jou om lewe en krag na jou oor te dra – so versterk ons
die aarde waar mooier, soeter en sterker drome vir jou ontwaak; drome vir jou veiligheid,
vrolikheid, opwinding, geluk en uiteindelik ook volmaakte vrede ----
----- my versugting vir jou is steeds om jou stywer vas te hou -----


No comments:

Dying Eventually

Listening to my favourite Internet guru, quite clearly this works for many people as they repeat the jargon flawlessly and I wish I could ge...